Polsslag Voortrekkers

Polsslag is deel van Die Voortrekkers, ʼn niewinsgedrewe kultuurbeweging vir die Afrikanerjeug. Polsslag se wortels lê diep gesetel in Centurion en gaan terug tot in 1949 met die stigting van die eerste Voortrekkerkommando. Ons bied kinders die geleentheid om die natuur deur avontuur te ontdek. Ons opwindende verskeidenheid van aktiwiteite fokus op leierskaps- en vaardigheidsontwikkeling: In die huidige Suid-Afrikaanse klimaat is dit baie belangrik dat die Afrikanerjeug ʼn sterk selfdoen ingesteldheid aanleer sodat hulle waardegedrewe antwoorde kan bied vir die uitdagings wat hulle in die gesig staar. Met hierdie uitgangspunt het Die Voortrekkers vir meer as vyf en tagtig jaar bewys dat ons suksesvol diensbare leiers vir more kan ontwikkel.

Wat bied Polsslag vir kinders?

Deur die jare het verskeie generasies in die veld gekamp en gespeel as trotse Voortrekkers en vandag het niks verander nie. Polsslag Voortrekkers bied die Afrikanerjeug van Centurion:

  • ʼn plek waar hulle steeds kind kan wees;
  • waar hulle die natuur deur avontuur kan ontdek;
  • leierskapsontwikkeling en die vermoë om selfgeldend te wees binne ons beproefde spanstelsel; en
  • geestelike ontwikkeling en weerbaarheid.

Wat bied Polsslag vir volwassenes?

Polsslag Voortrekkers is nie net vir die Afrikanerjeug nie maar ook ouers en ander volwasse vrywilligers. As jy as kind saam gekamp en gespeel het beteken dit nie, nou dat jy volwasse is, dat jou pret tot ʼn einde moet kom nie. Jy kan steeds deel wees van die avontuur deur:

  • betrokke raak by die aanbied van opwindende aktiwiteite;
  • ʼn verskil te maak in kinders se lewe deur mentorskap binne ʼn Voortrekkerspannetjie; en
  • deur jou vaardighede en kennis aan te wend ten bate van die Beweging.

Polsslag Voortrekkers is positief toekomsgerig en diensbaar binne die gemeenskap. Ons nooi jou graag uit om by ons betrokke te raak en deel te word van hierdie dinamiese Beweging!